Die vorm van die Kerk vandag

Categories: Blog

Die kerk het nog altyd dieselfde uitdaging: die manier waarop ons leef moet pas by wat ons bely. Met ander woorde: daar moenie ‘n gaping wees tussen ons teologie en ons praktiese uitleef daarvan nie.

 

Hierdie uitdaging word egter nog verder gevat wanneer ‘n mens veranderende kultuur en konteks ook inreken. Ons leef nie meer in die wêreld waarin ons 40 jaar terug geleef het nie! Die kerk van vandag moet ook aanpas by die omstandighede van vandag. Dis dus ‘n kwessie van integriteit en relevansie. Die integriteit van die kerk word bepaal deur ons vermoë om te leef wat ons glo en ons getrouheid aan die evangelie. Die relevansie van die kerk hang af van ons vermoë om aan te pas by veranderende omstandighede en die boodskap van Christus in hierdie omstandighede oor te dra. Ek wil vir ‘n oomblik by die gedagte van die kulturele relevansie van die kerk stilstaan.

In die laaste aantal dekades was daar intense debat oor die vorm wat die kerk moet aanneem om by die kultuur van vandag aan te pas. Die gesprek het op baie plekke gedraai: Tradisioneel vs. kultureel relevant; institusioneel vs. organies; instandhoudend vs. vernuwend ens. Myns insiens vind hierdie debat heeltemal op ‘n verkeerde vlak plaas. Die kerk se relevansie het nie te doen met bogenoemde teenstellings nie, maar eerder met die wyse waarop die kerk die karakter van God beliggaam in vandag se kultuur. Die vraag is dus nie of die kerk ‘n “toeganklike” vorm het nie, maar eerder of die kerk “Christus-vormig” of “Triniteit-vormig” is. Ons word immers die “liggaam van Christus genoem”. Richard Hays verwoord dit mooi:

“The church must be a community living in conformity to the paradigm of the cross and thereby standing as a sign of the new creation promised by God.”

So dalk is jou gemeente outyds, vernuwend, organies, cool, relevant, toeganklik, nuut, instandhoudend, tradisioneel, gereformeerd, skrifgetrou, stuck, kwynend, groeiend of wat ookal dit is wat ons gebruik om ‘n gemeente se relevansie te beskryf. Die vraag is egter: reflekteer ons as ‘n gemeenskap die karakter van Christus? Kan mense deur ons sien dat Jesus gesterf het aan die kruis en opgestaan het uit die dood en dat die Heilige Gees nou in ons leef? Die regte vrae bring gewoonlik die regte gesprekke na vore. Ja, ‘n kerk wat die karakter van Christus beliggaam gaan inklusief wees en dus aanpas by die kultuur (baie relevant). Maar so ‘n kerk sal ook nie verbruikers van mense maak nie. ‘n Kerk wat die karakter van Christus beliggaam gaan aktief betrokke wees by ‘n gemeenskap in nood (baie relevant). Maar so ‘n kerk gaan ook nie dit vanuit mag en meerderwaardigheid doen nie. Nou raak dinge tricky want die scorecard het verander.

Daar is nog baie hieroor te sê en hierdie blog sal in die tyd wat kom ‘n goeie platform daarvoor gee. Ek wil graag afsluit met ‘n metafoor wat die verhouding tussen vorm en inhoud  beskryf, maar in hierdie geval vir die liggaam van Christus.

Klere vir die liggaam

Organismes het instansies nodig soos wat liggame klere nodig het- iets om in te leef wat die vorm van die liggaam aanneem, maar nie die oorsaak van die vorm is nie. ‘n Groot man gaan ‘n groot hemp nodig hê, terwyl iemand met groot voete groot skoene benodig. Die klere moet beide gemaklik en funksioneel wees. Dit moet nie die liggaam inperk of strem nie. Andersins gaan die klere net dooie gewig wees. Die verhouding tussen die kerk en kultuur kan tot ‘n sekere mate so gesien word: die kerk as “liggaam van Christus” het deur die eeue dieselfde gebly, maar die klere hou aan verander soos wat die tye verander om sodoende relevant te bly.

Die gevaar lê nou aan 2 kante: aan die een kant kan die klere heeltemal ignoreer word en nooit verander nie. Dit sal die liggaam dan ontoeganklik en vreemd maak vir buitestanders en mense wat ‘n ander “styl” uitleef. Saam hiermee is die gevaar dat die klere beperkend en selfs verlammend vir die liggaam word, maar nooit verander word om meer funksioneel en effektief te wees nie. Dit is die gevaar van rigiede tradisionalisme- die klere maak die liggaam dood.

Aan die ander kant is die gevaar dat die fokus slegs op die klere val. Nou is die klere altyd-veranderend en relevant, maar dit wys nooit regtig die ware substans, die liggaam, nie. Ja, die klere is toeganklik, maar wat is die waarde van toeganklike klere met niks wat van nut is onder dit nie? Dit is die gevaar van ‘n oormatige fokus op kulturele relevansie: tot ‘n mate word die klere die liggaam en is dit leeg.

Die vorm van die kerk vandag moet nie ‘n kwessie wees van “liggaam vs. klere” nie, maar eerder “die liggaam en klere”. Hoe sal ‘n God-vormige Kerk geklee wees in vandag se kultuur om met integriteit en relevansie te leef? Dis iets waaroor ons kan praat