‘n Kersete vir haweloses

Categories: Nuus

‘n Kersete vir haweloses

Dis kerstyd.  Hoe maak mens die liefde van die Here in hierdie wêreld sigbaar?  Sien die haweloses raak en hou vir hul ‘n kersete en wys vir hul dat die Here hul lief het en dat ook hulle vir Hom belangrik is.

Woensdag, 19 Des om 11:00, word Bergsig se kerksaal volgemaak met 90 haweloses uit ons gemeenskap.  Die tafels is pragtig gedek en met kersversierings mooigemaak.  ‘n Gros gemeentelede staan gereed om ons haweloses te verwelkom, ‘n geselsie met hul aan te knoop, hul te help handewas en vir hul te wys daar is mense wat hul raaksien en vir hul omgee.

Wat het ons gesien en gehoor?

  • Sommige loop nog flink. Baie dra die letsels van jare se swaarkry en seerkry met hul saam: ‘n skuifelstappie; krukke; beroertes; verslawing; verwerping; een oog wat nog redelik sien, die ander wasig en dof; mans en vrouens – wit, bruin en swart wat saam deel in dieselfde swaar. Selfs ‘n paar kinders is saamgebring.  Die oudste hawelose 74 – die jongste 16, oppad na 17.
  • Skugter en onseker gesigte wat nie weet wat om te verwag nie … wat geleidelik ontdooi en later heerlik saamkuier.
  • Vreugde oor ‘n bord kos … wat twee en selfs drie borde word wat deur ‘n honger mens verorber word. Vir een kort oomblik kan ek soveel eet as wat ek wil … en daar is nog! … en ons kan nog saamvat huistoe ook …
  • Gemeentelede en haweloses wat opstaan en mekaar spontaan drukkies gee. Dié wat het wat vir hulle wat nie het nie, sê:  “Ek is lief vir jou!” … en dit wys met gasvryheid en hartlikheid.
  • Mense wat net stilsit en alles inneem wat om en met hul gebeur sonder om ‘n woord te sê.
  • Dankbaarheid in ons eie harte oor die baie wat ons het. Waarom is ek so geseën, Here, terwyl daar ander is wat niks het nie?
  • Harte en hande wat oop is vir hulle wat minder/niks het nie.
  • “Ek wil maar net sê: As jul dalk weet van iemand wat iemand nodig het vir ‘n los werkie … ek is beskikbaar.”
  • “Waar woon jy?” “Nee, ek slaap maar daar waar die nag my inhaal.”
  • Mense met groot dankbaarheid en blydskap oor ‘n vol maag; ‘n oorlewingspak vir die volgende twee weke; ‘n verrassingsgeskenk of twee … wat uit die saal stap met ‘n nuwe flikkering van hoop in die oog.  Ons het as vreemdelinge vir mekaar hier ingestap … ons stap nou hier uit as broers en susters in die Here.
  • Aan die einde van die oggend: “Dankie”; “Dankie”;  “Baie dankie”;  “Baie dankie – ek is lief vir julle”;  “Bid vir my.”

Waar was die Here vanoggend?  Ek glo Hy was hier tussen hulle wat die laagste sport op die sosiale leer beklee.  Omdat dit juis hulle was wat sy vriende was toe Hy as mens hier op aarde kom leef het.

Dankie Anne-Marie en jou span wat met soveel liefde alles gereed gekry het.  Dankie André en helpers wat elke week hierdie mense met die liefde van die Here bedien.  Dankie aan elkeen in die gemeente wat deur die jaar so getrou sop maak, en nou, hier aan die einde van die jaar, ook nog jul harte en hande vir die rand-mense van ons dorp oopgemaak het.  Dit is soos ons Here Jesus liefgehad het.